Skip to main content

Wit Heinings(An Afrikaans Short Story)

 


Die trein kaartjie. Dis al waaraan sy kan dink. Die trein kaartjie; dis haar sleutel tot vryheid. Tot asemhaling, ja dit sal haar longe weer lug laat proe. Binne haar handsak – die glinsterende bottelgroen een wat sy verafsku, die een wat hy vir haar as geskenk vir hulle eerste huweliksherdenking gegee het (nie noodwendig oor die kleur, of die gehalte, of die prys nie, maar eerder oor die sentiment wat daaragter skuil) – tussen die voue, lê die vierkantige papiertjie. Sy vroetel met haar vingers binne in die bottelgroen mond, haar hand Jona en die 'geliefkoosde' handsak die vis. Uiteindelik voel sy die kaartjie– dit was darem nie ingesluk en weggevoer nie. En blaas saggies uit. Die agterkant van haar skedel raak aan die koel muur. Daar's niemand langs haar nie. Haar oë gaan toe en prentjiemooi beelde van 'n paradys neem haar verstand oor. Alleen lê sy op 'n goue strand, geniet die ligte somer briesie oor haar vel. Sal iemand haar as mal beskou indien sy nou 'n glimlag op haar gesig kry? Maar wat maak dit nou saak? Sy's nie by die hospitaal nie, maar op die pragtige goue sand in haar geheime paradys. En in hierdie paradys is sy die koningin. Lê en niks doen is haar primêre taak. Geen sorge in sig. Geen haar op haar liggaam wat gekwes is deur die bekommernisse van alledaagse banaliteite soos huurgeld, wasgoed, skottelgoed, aandete, middagete, ontbyt, klere stryk, die bure se skinderpraatjies, 'n kleuterskool vir Madeline, hoe verbeeldingloos sy haarself laat word het, die muiserige skakering van haar eens vuuragtige lokke, haar oorgroot bloes, die dom skewe glimlag wat hy haar soggens en saans gee…


'n Ligte tikkie aan haar skouer maak dat sy haar oe oop maak. Die skielike aanraking verblind haar sintuie. Hy staan reg voor haar, met sy lang skoolseun-wimpers en daardie glimlag. Madeline se handjie is binne in sy palm en sy hou styf aan haar pappa se hand vas. Die dogtertjie het haar pa se donker, amper swart oë en rooi hare, soos haar ma s'n, eens op 'n tyd. Lank, lank gelede. Die sproeitjies op haar fyn neusie herinner aan sjokolade sprinkels oor roomys. Madeline se kop is gedraai na die ander pasiënte toe, en sy kyk en kyk, met haar nuuskierige blik. 'n Piepklein gemmerkatjie wat die wêreld vir die eerste keer sien. 

Dis toe dat Mevrou Chamberlain onthou waar sy eintlik is. Lewensdraai Hospitaal wemel met hospitaalpersoneel: verpleegsters, dokters, sekuriteitswagte en pasiënte. Daar is 'n middel-jarige dame met elektriese pers hare. Sy loop met haar kop onderstebo, pasiënte leêr onder haar arm. Roospienk mure omring elkeen wat binne die gebou is. Die binnekant van Lewensdraai is soos 'n mensgemaakte tuin, dorings wat gereed staan om sy rose te beskerm. 

"J-jy geslaap?" vra Earl terwyl hy sy plek langsaan sy vrou inneem. Madeline sit op sy skoot en vroetel met die soom van haar pofmou rokkie. 

Mev Chamberlain skud haar kop. "Nee wat. Kan mens dan nou werklik slaap in 'n hospitaal?" Haar stemtoon is speels, tekens van lag in haar woorde. "Ek het net my oë so bietjie laat rus."

Hy knik sy kop. Sy wens hy wou ophou om sy tande te wys. Sy kners op haar tande om te keer dat sy gil. Maak haar hande in vuiste sodat sy nie haar hare by die wortels uitruk nie. Of erger: die glimlag van sy gesig af vee met die palm van haar hand. 

"Hoe's die... die... die... uh... j-jou..."

Sy raak aan die plekkie, versigtig en antwoord met meer kalmte as wat sy gedink het sy kon "Beter. Baie beter."

________________________________

Sy was besig om koppies te was toe dit haar tref. 'n Skerp pyn naby haar naeltjie. Die lyne op haar voorkop het meer prominent geword, haar oë toe geknyp. Die koppie het op die vloer geval, gebreek, toe haar liggaam inmekaarkrimp. Sy het vloer toe gesak. Madeline se kaal voetjies het saggies in gekom. 

"Mamma?" het Madeline gesê in 'n huiwerige stemmetjie, haar speelgoed hasie in haar arms. Die meisiekindjie was besig om vir hom 'n storie te lees oor 'n haas familie wie se paaie skei, ten spyte van hoe graag die baba-hasie wou hê hulle moes vir altyd saam bly. 


Mev Chamberlain se blindederm het gebars en die dokters moes die vingervormige orgaan chirurgies verwyder. Sy het so gebid dat antibiotika genoeg sou wees. Die mediese span het met haar gepraat oor die prosedure met Earl teenwoordig. 

"So wat gaan gebeur is, ons maak een groot insnyding by jou onderbuik aan die regterkant. Daarvolgens, sal ons die buikholte oopmaak en jou buikspiere skei…" 

Annotasies van haar mediese geskiedenis, medikasie en allergieë was geneem en Mevrou en Meneer Chamberlain het hul toestemming gegee. Die narkose het haar weggevoer maar nie voordat sy musiek hoor speel het nie. 


Haar man het aan haar sy gesit. Hy was altyd daar. In die herstelkamer, het sy haarself probeer oortuig dat sy gelukkiger sou wees. Sy het haar seëninge getel. Een vir een. Dat haar oë oopgefladder het na die operasie was beslis 'n seëning. En sy het geen gebrek aan ondersteuning gehad nie. Earl was daar. Madeline was daar. Haar pa het ook 'n draai gemaak. Sy was nie alleen nie. Al het dit soms so gevoel. 

Dit sou vir 'n hele ruk seer wees en sy moes vir ten minste 'n paar weke fisiese aktiwiteite vermy. Op haar eerste aand tuis het sy een van Madeline se storieboeke vir haar gelees. 

_________________________

Nadat haar man haar 'n piksoen op die wang gee, se hy "Gee jy om as ek v-v-vir Madeline huis t-toe n-neem? Sy's seker al r-r-rasend van honger-te."

Sy skud haar kop. Dalk bietjie te gretig. "Glad nie! Julle twee kan 'n breek vat. Ek sal darem okay wees." 

Hy gee 'n skewe glimlag, en lei vir Madeline na die uitgang. Sy dink aan die piksoen. Hy was nog nooit een vir soene nie. Tog het hy haar nou een gegee. Dit het gevoel soos 'n totsiens. 

Sy maak haar oë weereens toe en asem stadig in en uit.


Een.


Twee.


Drie.


Asem in. 


Asem uit. 


Ek is gelukkig.


Ek het 'n wonderlike man en kind. 


My lewe is perfek.


Die spasie waar haar familie gesit het, is nou leeg. Langsaan haar is 'n jong vrou met oorfone in haar ore. Mevrou Chamberlain hou haar dop en 'n rukkie later ontmoet die twee se oë. Die meisie se gesig is fluisterstemme; alles fyn en effens. Haar wenkbroue is dun, so dun dat mens sou dink dat hulle onsigbaar is. Die oë is klein en 'n kleur wat Pearl nie kan beskryf nie. Die meisie het 'n roosknop vir 'n mond en die neus van 'n pop. Die dame glimlag effens maar Mevrou Chamberlain draai haar kop weg en maak asof sy rond kyk. Steek haar hand in haar sak en voel vir die kaartjie. 

"Verskoon my," sê die vreemde meisie. Sy haal haar oorfone uit en hou die oranje drade binne haar palm vas. Selfs haar stem is sag. Dis nie 'n uitroep teken nie maar 'n ellipsis. Die rooikop se oë beland nog maal op haar. "Mag ek nader skyf?"

Mevrou Chamberlain skud al weer haar kop, te gretig en vinnig. "Natuurlik."


_____________________________

Heidi sit haar oorfone in haar rugsak weg. Vir die afgelope uur het sy na 'n podcast geluister. Die inhoud is iets wat haar gesig sal laat opvlam indien sy dit moes onthul. Die illusie van sielsgenote is nie iets waarin Heidi noodwendig glo nie, maar sy moet erken: Dit sal nice wees om vir 'n slag nie alleen te wees nie. Elke keer wanneer daar 'n familie samekoms was, moes Heidi die nuuskierigheid van haar anties en uncles verduur. 

"Is daar iemand in jou lewe? Iemand spesiaal?" 

Daar was baie spesiale mense in haar lewe. Haar ma, pa, suster, vriende… maar sy weet dis nie wat hulle vra nie. 

"Nie op die oomblik nie," was haar antwoord elke keer. 

Die familielid se oë sal dan pierings word en hulle sal haar aangluur, agterdogtig en verward. Asof sy hulle so pas vertel het dat vlerke uit haar ruggraat groei. 

"Stap jy dan nie al dertig toe nie? Jy sal moet sorg dat jy voor die kansel kom. Jou jonger suster staan al op trou. Wil jy nou wragtig waar alleen ouetehuis toe gaan? Ek sal met jou ma moet gesels..." 

Senuweeagtig en benoud het Heidi gewoonlik gemaak asof sy haar neef hoor roep en haastig, maar goedgemanierd, weggeloop. Sy kon haar familie natuurlik nie kwalik neem vir die belangstelling, oftewel nuuskierigheid nie, al het dit al haar self-beheersing geneem om nie reguit vir hulle te sê dat dit nie hulle besigheid is nie. Daar was nog geen vooruitsigte van konfetti in haar nabye toekoms nie. Toe haar suster, die laatlammetjie, haar verlowing drie maande gelede aankondig, was Heidi meer as net verbaas. Haar onderlip het gebewe en sy moes daarop byt om te keer dat enigiemand oplet. In hul tienerjare het hulle twee aan mekaar 'n belofte gemaak: Dat hulle nooit sou trou nie. Hulle sou hulself nooit, ooit, in 'n situasie laat beland wat hulle harte kon breek nie. Geen man sou hulle bedrieg soos hulle pa aan hulle ma gedoen het nie. Heidi en haar suster sou mekaar beskerm. Teen bloedlustige wolwe in woude, en teen sjarmante houtkappers wat veronderstel was om hulle teen daardie wolwe te verdedig. 


Sy kon enige beroep onder die son gekies het. Haar familie het taamlik konneksies by talle besigheidsplekke en met haar diploma in menslike hulpbronne, kon sy kies en keer. Maar op die ou einde het sy 'n werk gekies wat so onkonvensioneel en onversekerd is. Haar 'podcast', One Is A Whole Number, is gebore uit 'n soeke na antwoorde, 'n tipe desperaatheid om die tralies van die samelewing se tradisionele standaarde van vrouwees te ontsnap. 

"Welkom almal, dis Heidi hier, terug met 'n nuwe episode," was haar weeklikse inleiding. "Vandag 'chat' ons so bietjie oor die dinge wat enkel wees so mooi maak. Hoekom moet daar dan nou 'n ring om jou vinger wees om 'n sin van volledigheid te ervaar? Is die lewe dan nie meer as wit rokke en wittebrode nie?" 

Haar luisteraars het honderde kommentare gelos. Na elke episode, word daar vir haar vertel dat haar gesprekke as inspirasie dien, en hoe baie hulle dit geniet om na haar charismatiese stem te luister. 

"Jy is 'n warrior! xoxo. Luv u xoxo." 

"Be my bestie!!!" 

Die gawe boodskappe was haar eie persoonlike konfetti. 

Daar was ook natuurlik sekere mense wat haar 'podcast' heeltemal verkeerd interpreteer het. Party het gevoel dat Heidi pretensieus klink, asof sy elke woordjie wat sy uiter met 'n maatband meet. Ander het haar daarvan beskuldig dat sy mans haat en sy net bitter is omdat almal om haar in ernstige verhoudings is en sy nie. Asof enigeen van hulle haar hele lewensverhaal ken! 

______________


Vir vyftien minute sit en bewonder sy ander mense se kamera-rol lewens. Instagram het die vermoë om jou in te sluk. Dis die een prentjie na die ander. Colgate-glimlagte. Oorverdowende soetsappighede. 

Paartjies wat hande vas hou. 

Digterlike sêgoed. 

Ten spyte van haarself druk sy 'like'. Party mense het die mees volmaakte lewens. 

Alles was 'fine' tot haar suster verloof geraak het. Die enkellewe het Heidi goed behandel en sy kon glo dat sy werklik gelukkig was. Die krummels van eensaamheid wat op haar pad huis toe gesprinkel was, kon gewoonlik verdra word. Wanneer sy vir haar suster 'n boodskap gestuur het, het hulle saam die sakke sout opgeëet. Maar toe… Toe het sy iemand ontmoet en die belofte wat hulle aan mekaar gemaak het, het betekenis verloor. Heidi moes van toe af die sak sout alleen kou met tande gekners. 

"Simphiwe Mazibuko!" Die verpleegster verskyn en roep 'n pasiënt se naam uit. Niemand kom na vore nie. Die verpleegster frons en roep die volgende naam. "Austin Isaacs!" 'n Tingerige man tree die kamer binne, die deur gaan agter hom toe. 

Heidi sug en sit haar foon terug in haar denim baadjie-sak. Sy wou nie hê dit moes voorbarig lyk nie, maar Heidi se blik was getrek na die vrou langsaan haar. Die platinum ring aan haar vinger. Die raarste en kosbaarste metaal in die wêreld. Platinum; die simbool van ewigdurende liefde. Dit word sterker met tyd terwyl ander metale soos goud weg vlek. So het sy iewers gelees. 

En dan dink sy terug na 'n paar oomblikke gelede, toe die man en dogtertjie by haar was. Hy het 'n soentjie op haar wang geplant, so teer. 

"Verskoon my, mevrou. Was daardie jou man en kind? Die twee wat vroeër geloop het?" 

Die vrou se oë is op hare gerig. "Ja. Dit was. Is." 

Heidi knik. "Ek's jammer, ek bedoel nie om so nuuskierig op te tree nie." 

"O, nee. Moenie jammer se nie," verseker die vrou haar. "En asseblief, noem my Pearl." 

"Hallo Pearl. My naam is Heidi." 

"Jou dogtertjie is pragtig. Hoe oud is sy?" 

"Dankie. Sy's vyf." 

"Om watter rede is me- jy, hier?" 

"'n Tydjie terug het ek 'n blindederm operasie ondergaan. Ek kom maar net vir 'n opvolg." 

Heidi trek haar gesig, en sien hoe Pearl vir haar gesigsuitdrukking giggel. Skielik is daar 'n ligte kramp aan die regterkant van haar maag, maar voor sy daaraan kan raak, is dit weg. 

"Jammer dat ek gelag het," sê Pearl, 'n vonkel in haar oë. Vir Heidi, is hierdie vrou die ewebeeld van prag, 'n visioen van die mens wat sy nastreef om te wees. 

"Dis okay, die woord operasie laat my kop draai. Was dit ... Baie pynlik?" 

Pearl sug. "Ek gaan dit nie 'sugarcoat' nie. Dit was vrek seer, jong." Sy giggel weer, en vertel vir Heidi van die hele gedoente. "Waarvoor moet jy hier wees, as ek mag vra?" 

"Bloedtoets uitslae, mevrou." Heidi se oë vergroot. "Sorrie. Pearl." 

Vir die afgelope jaar ondervind sy konstante moegheid, nagsweet, teerheid in haar bene en herhalende neusbloeding. Aan die begin, het Heidi dit afgemaak as blote hormoonverandering of 'n gevolg van uitputting. Haar familie aan haar ma se kant het 'n geskiedenis van skildklierprobleme, en haar ma was die een wat haar aangemoedig het om 'n dokter te sien. Een ding wat sy nie kon klein kry nie, was die neusbloeding. Waarvandaan het dit gekom? Selfs toe sy klein was, kon sy vir ure in die son wees sonder om uit haar neus uit te bloei. Haar ma het haar beskryf as 'n "sonneblom-kind" oor haar vermoë om in die son te floreer. 


Dit was vir haar 'n raaisel. Totdat sy uitgevind het van haar pa se mediese geskiedenis. As jong man was hy met leukemie gediagnoseer. Hy was skaars sewentien toe dit hom tref. Vir 'n lang tyd het hy met die kanker wat sy bloed besmet het geworstel. Die behandeling was suksesvol en hy het in remissie gegaan. Heidi se ma het dit van haar weerhou. Sy en haar suster moes niks van hulle pa weet nie. Mag nie oor hom gepraat het of gevra het nie. Al wat hulle moes weet was dat hy hulle ma verneuk het. En dit was die einde van die storie. 


"Heidi is 'n oulike naam. Nes die storie. Jou ma was seker baie lief daarvoor?" 

"Ja, taamlik." 'n Stilte heers tussen hulle. 'n Leemte. 

"Pearl, as ek mag vra, hoe lank is jy en jou man al getroud?" 

"Verlede maand was dit... Vyftien jaar." 

_____________


Earl en Pearl Chamberlain. Klink soos die name van 'n koninklike egpaar. Die donker hare en donker oë het haar aangetrek, gepaard met sy skewe glimlag en skerp kakebene. Hierdie man was die ewebeeld van die spook van haar verlede. 'n Spook wat vir ewig by haar sou spook. Haar nooit sou laat slaap nie, haar soos 'n voeltjie aan haar kos sou laat pik, haar hare vroeg sou laat vergrys. 

Hoekom moes hy haar verlaat? 

Kon hy nie langer bly nie? 

Net vir 'n paar jaar, 'n paar maande, 'n minuut... 

Als sou anders gewees het. As hy net gebly het. 

Maar dinge het gebeur in die orde waarin dit gebeur het en die boeie rondom haar enkels het haar al hoe stadiger laat beweeg. 

Die outjie met die kitaar op die trein, en sy; die meisie met die sketsboek wat hom teken terwyl hy daar staan en speel. Tussen die mense het hy gestaan op die rit terug huistoe, en hy het die manier gehad om weggevoer te raak, en Pearl het altyd gewonder waarheen hy gaan wanneer die snare van sy kitaar hom so weg voer. Was dit 'n paradys, of was dit 'n bodemlose put, gebou net vir hom? 

Hy het nooit gehuil nie, het altyd net vir haar 'n halwe maan glimlaggie gegee toe sy vra of hy okay was. Sy wens sy het geweet. Dit was hul matriekjaar. Vir die daaropvolgende maande het hy in die klas gebly terwyl die ander klasmaats pouse geniet het. Pearl wou saam met hom sit. 

"Nee, gaan uit. Moenie hier bly nie. Hoekom sal jy dan nou in die dooierige klas wou bly terwyl die ander pret het, ha?" 

"Ek kan dieselfde vir jou vra," het sy gemurmureer. 

Sy wens sy't nie na hom geluister nie. 

Die laaste keer toe sy hom sien, het hy vir haar vertel "Ek speel nie meer kitaar nie. Ek het dit verkoop." 

Hoekom? 

Daar was geen antwoord op sy gesig nie. Of eerder, daar was soveel dat sy nie seker was wat die korrekte een was nie. 

Op die laaste dag van skool, was hy afwesig. En daardie afwesigheid, sou Pearl later besef, was permanent. 'n Penmerk wat nie uitgewis kan word nie. Sy kon haar uitveer daarteen skraap so veel soos sy wou, maar die ink sou weier om te verdwyn. Die merke sou net traanvormige strepe los. 

In die daaropvolgende jare, sou sy met dieselfde ink briewe aan hom skryf. En hy sou nooit terug skryf nie. Sy huil stil, haar mond toegeklap sodat sy nie 'n geluid maak nie. 

Op neentien, kon sy die verlange nie meer wegwens nie, en toe haar ma se vriendin haar voorstel aan haar oudste seun, die een met wie sy daardie selfde jaar sou trou, wou sy eers fluister "Aston... is dit jy?" 

Maar sy het nie. Want dit kon nie hy wees nie. Sy was daar toe hulle hom in die grond sit, het aand na aand vir sy ma gaan kuier en geluister hoe sy stories oor haar enigste seun vertel. Sy het nooit gesê sy mis hom nie, nie met haar mond nie. Maar met haar oë. Die manier hoe sy 'n tweede bord(of derde, as Pearl daar was) op die tafel gesit het, hoe sy ander jong mans aan staar asof sy haar seun in hulle sou vind, hoe sy tyd om tyd sy kamerdeur oopmaak om hom wakker te maak, net om te onthou dat die kamer nou leeg was, en hoe sy soekend na Pearl staar, asof sy antwoorde by haar sou kry. Antwoorde op elke onopgeloste vraag wat Aston agter gelaat het. Pearl het self geen antwoorde gehad nie. 

Al wat hy haar vertel het was dat iemand na aan hom hom leed aangedoen het. 


"H-h-hallo, P-P-Pearl, ek's Earl," het die donkerkop man homself voorgestel. 

Die eerste paar maande kon sy haarself oortuig dat hierdie man haar toekoms was. Maar elke keer toe hy begin praat oor 'n gesin, het sy toe geklap. Die seer agter sy ooglede was byna aanraakbaar. Ten spyte van haar skuldgevoelens, kon sy haarself net nie bring om vir hom te gee wat hy so desperaat was om te hê nie. Eers tien jaar later, het sy ingestem, en Madeline is gebore. 


________________


Deure gaan oop en toe. Mediese toestelle raas en daar is voetstappe en gesprekke. 

"So jy wou nie met Earl trou nie?" Pearl knip haar oë, asof in 'slow motion'. Sy voel die hoendervleis en hoe die haartjies op haar voorarms rys. Niemand het haar al ooit daardie vraag gevra nie. 

Uiteindelik, laat sak sy haar kop. 

"Ek weet dis nie my besigheid nie, maar... Dalk moet jy eerlik wees met hom." 

"Na al die jare? Na 'n kind gebore was?" 

Sy skud haar kop, hou vir 'n lang sekonde haar hande oor haar gesig. Sy het destyds 'n belofte gemaak aan haarself, dat sy vir hom die waarheid sou vertel. Haar hart sou uitstort. Maar as hulle ooit 'n kind saam het, sou dit haar teken wees om stil te bly. En Madeline was haar rede om niks te noem nie. Om uit te hou. En tog, hoeveel langer kon sy nog uithou? Duidelik het nie eers haar enigste dogter soveel vir haar beteken as wat sy geglo het nie. As sy het, sou sy nie die treinkaartjie gekoop het nie. 

"Ek voel soos iemand wat 'n leuen lewe," erken Heidi, en Pearl is dankbaar vir die verandering van onderwerp. Pearl kyk na haar. "Hoe bedoel jy nou, jong?" 

Heidi lag effens. "Die podcast wat ek aanbied, dis 'n sham. Ek praat oor hoe vreugdevol die lewe van 'n enkel vrou eintlik kan wees, terwyl ek besig is om binne in myself te sterf van eensaamheid. Ek sien paartjies in die strate stap, op sosiale media, op TV, en..." 

Haar stem kraak so bietjie. Pearl se keel word kurkdroog. Sy skyf bietjie nader aan die vreemdeling wat langs haar sit. En tog voel hierdie vrou nie soos 'n vreemdeling nie. 

"Die naweek wat kom, is my suster se troue. Ek wou nie gaan nie, maar het van plan verander. Dalk as ek daar iemand ontmoet... Wie weet?" 

Pearl gee vir haar 'n glimlaggie. In haar kop, probeer sy iets vertroostend uiter, maar haar keel klap toe. Wat kon sy tog vir haar vertel? Al waarmee sy vorendag kon kom was cliches en sy was so moeg van cliches. Sy ken die eensaamheid waarna sy verwys. Dit bêre homself diep binne in jou borskas soos 'n dooie voël. Dis 'n ding met vlerke, wat nie 'n kans staan teen die winde van verandering nie. 

Tog het Pearl ook geweet jy nie al jou geluk kon bou op 'n ander persoon nie. Mense kon jou nie vervul nie. 

Hulle laat net leë spore agter. 

_________________


"Pappa sal jou nog steeds gereeld sien, Poplap. Belowe." 

Haar pa sit op sy hurke reg voor haar, streel haar fyn hare. Hoekom kon sy hom nie altyd sien nie? Hy was haar pa. Haar hartseer gesiggie het hy in sy handpalms vas gehou, en hy het vooroor geleun en haar 'n voorkop soen gegee. 'n Enkele traan rol van haar wang na haar ken. 

Hy draai na haar jonger sussie, en gee vir haar 'n soen op die wang. Terwyl hy sy dogters in sy arms vashou, fluister hy, "My twee liefste meisiekinders. Ek het julle liewer as enigiets in die wêreld. Moet dit nooit vergeet nie. Belowe my." 

Die geur van die parfuum wat die meisies se ma gebruik laat Heidi se maag op 'n knop trek. Sy sluk hard en klou stywer vas aan haar pa. Hulle trane maak sy baadjie klam maar hy druk sy dogters net nog nader. 

"Kom meisies, julle pa moet nou gaan." Heidi druk haar oë styf toe in 'n poging om die ysigheid van haar ma se woorde weg te stoot. Hoe kan haar ma so koud wees? Hulle pa was tog nie 'n slegte mens nie. Hy was daar vir sy familie, en hy het nog nooit sy stem verhef of handgemeen geraak nie. Toe haar ma hulle twee probeer gryp, sodat hulle pa uit die deur kon gaan, het Heidi aggressief begin huil en 'n gil uitgelaat wat die vertrek geskud het. 

Haar suster het dieselfde gedoen. Haar longe uitgehuil, en dit het veroorsaak dat hulle pa sy gesig wegdraai en so gou as moontlik by die deur uitstap. Dit was te veel vir hom om te aanskou. 

"Good riddance," was hul ma se reaksie. 

______________


"Ek's jammer, Heidi." Pearl sit haar hand sagkens op haar skouer. 

Met glinsterende oë kyk Heidi op. "Volgens my ma, het hy haar verneuk. Maar die vreemdste ding is, ons het dit altyd net by haar gehoor. Niks anders het in daai rigting gewys nie. Daar was niks bewyse wat my pa se beweerde egbreuk bevestig het nie. Al wat ons gehad het, was my ma se woord. En ja, ek weet. Sy's onse ma en ons moes haar glo. Sy was die een wat seker maar beter geweet het. Ons was kinders. Maar in my hart, het ek geweier om dit van my pa te glo." 

"En jou sussie?" 

"Om die waarheid te sê… my suster het meeste van die tyd haar gevoelens vir haarself gehou. Dit was nie maklik om 'n honderd persent seker te wees van wat sy dink nie. Wat ek wel goed weet, is dat sy hom vreeslik gemis het. Ons het 'n kamer gedeel en ek het stil gebly terwyl sy vir haarself 'n song sing wat hy vir haar in die aande gesing het. Dit het my partymaal gebreek. So veel dat ek gesukkel het om na haar te kyk. Ek het my ore toegedruk in sulke tye. Dalk moes ek nie." 

"Dit het gevoel asof hy dood is. My ma het ons aangegluur as ons na hom gevra het. Ons kon nie eers oor hom praat nie. Al was ons veronderstel om gereeld tyd saam met hom te spandeer, het ons hom net twee keer daarna gesien. Alle kontak was basies verbreek." 

'n Prentjie van die goue band rondom haar ma se vinger kom op by haar. Die skraapmerke op die metaal, hoe verinneweer dit geword het in so 'n kort tydjie. Miskien as dit platinum was, sou hulle steeds 'n gesin gewees het. 

_____________


Pearl se blaas voel oorvol, soos 'n waterballon wat enige oomblik gaan bars. Al verafsku sy openbare toilette, het sy geen keuse nie. Wanneer sy aan die handvatsel raak, is dit effens klam en sy maak haarself gereed om haar asem in te hou. Die onaangename kombinasie van skerp skoonmaakmiddels, urine en ontlasting maak haar lighoofdig en naar. 

Daar is klanke van waterpype wat sagte drupgeluide maak en die suising van 'n ventilasie-eenheid. 

Sy maak toe klaar, en betree die wasbak om haar hande te was. Die kraan drup nog voor sy dit oopdraai en sy hou haar hande onder die water. Terwyl sy haar hande droog skud, neem sy haar refleksie waar. Die spieël het watermerke en 'n krakie. 

Mev. Chamberlain. 

Sy sug. 

Heidi het haar verseker dat sy haar plek sal hou. Nogtans, sy mag nie te lank draai nie. 

Sy lig die onderkant van haar bloes op en kyk na die letsel wat die blindederm operasie op haar vel gelos het. En liggies, streel sy die plekkie met haar indeksvinger. Die verdowwende merke van die steke lê soos 'n treinspoor op haar maag. Hoe kan sy dit ontsnap? 

"Ek… mis hom," fluister sy vir haarself maar sy hou haar aandag op die letsel want sy kan haarself nie in die oë kyk wanneer sy na hom verwys nie. Sy snuffel maar haar oë is droog. Vir nou. 

Mens kan sonder 'n blindederm leef, aangesien dit nie 'n essensiële orgaan is waarsonder mens nie kan funksioneer nie. Daar is geen bekende funksie van die orgaan in die menslike liggaam nie, en die verwydering daarvan veroorsaak gewoonlik geen langtermyn effekte of nadelige gesondheidsgevolge nie. 

En tog verlang sy na hierdie onbelangrike orgaan. Maar hoekom? Dit dien geen doel nie. Sy was in meer gevaar met dit in haar liggaam as wat sy sonder dit is. Sy haal asem, soveel het sy om voor dankbaar te wees. Maar sy kan dit nie ontken nie. Dit bly 'n feit so werklik vir haar. 

Die dag toe hy uit haar lewe verwyder is, het sy nie besef dat sy hom nooit weer sal sien nie. Dit was eers later toe die verlange haar begin opvreet het. 

Pearl maak die deur oop en 'n vrou struikel in die hospitaal gang. Sy stap vinnig om die vrou op te help, maar wanneer sy na aan haar kom, ruk die vrou haar arm so gewelddadig weg dat Pearl se hart amper gaan staan. "Is jy okay, Mevrou?" vra Pearl, bewerig. Met nou oë en 'n drank asem mompel die vrou "Loooos my. Ek kan self opstaan. En wie sê in elk geval vir jou ek wil opstaan? Mm? As ek wil lê op die vloer kan ek lê. Hulle kan my nie keer nie." 

"O, okay. Maar dit lyk vir my asof Mevrou hulp nodig het." Pearl waai die drankreuk weg van haar neus af. Die vrou let nie op nie. Haar gesig vat lank om haar omgewing te registreer, maar sy praat aanhoudend met Pearl "Los die Mevrou storie. Ek's g'n mevrou nie." 

Die vrou staan stadig en onelegant op haar voete terwyl Pearl probeer om nie te veel te staar nie. 'n Stadige, breë glimlag verskyn geleidelik op die vrou se gesig terwyl sy Pearl waarneem. 

"Aitsa! Maar jy's darem fancy, né? Die bag sal mos mooi pas by daai outfit wat ek nou die dag gekoop het." 

Al probeer Pearl om nie toe te laat dat haar vooroordele haar verstand oorheers nie, kan sy die gedagtes wat by haar op kom nie keer nie. Hierdie vrou lyk dan so verwaarloos. Sy's dronk. Waar kry sy geld om nog 'n uitrusting te bekostig?

Dan kastei sy haarself vir hierdie afleiding. Hoe kon sy so vinnig oordeel? Sy ken haar van geen kant af nie. Haar greep op haar handsak trek stywer. Die vrou haal nie haar oë daarvan af nie. 

"As jy my wil help, gee my dan jou bag." Die vrou strompel. Pearl verbleek. 

"Ekskuus?" 

Die vrou gryp die onderkant van die groen materiaal en trek dit nader na haar toe met aggressie. Pearl klou daaraan vas met al haar krag, haar voorkop swetering, palms sweterig. 

Die kaartjie, die kaartjie, die kaartjie.

Dit word 'n resitasie. 

"Asseblief, los my handsak." 

Pearl se gesmeek val op dowe ore want sy laat los nie. Haar palms se klamheid veroorsaak dat sy haar greep op die materiaal verloor en dit beland in die ander vrou se besitting. 

Die trane bars amper los toe sy kyk hoe die vrou met haar handsak weg loop. 


Toe sy na haar sitplek terugkeer, is haar nuwe vriendin spoorloos. Haar hart klop bonsend. Mense het opgeskyf en sy weet self nie meer waar haar sitplek was nie. Maar dis nie hoekom sy paniekerig is nie. Heidi. Waar is sy?

Haar naam is seker geroep en sy's by die dokter… Of sy het haar gaan soek. 

Of... Of... Of…

Sy vra vir die persoon in haar sitplek of sy dalk weet waar die jong vrou is. 

"She's gone." 

Gone? 

Weg waarheen? 

'n Rukkie later kom Heidi uit die dokter se kamer uit. Pearl asem uit van verligting. Heidi se bewegings is stadig, haar gesig soos een s'n wat deur 'n koringveld gejaag was. 

"Wat's fout?" 

Sy skud haar kop. "Niks. Alles is hunky-dory. Um, as jy klaar is, kry my buite." 


Na Pearl se ondersoek, soek sy vir Heidi buite die hospitaal gebou. Sy sien haar en gaan nader. Toe sy by haar is, sê sy verward "Wat gaan aan? Het die dokter iets..." 

"Dit maak nie saak nie." Heidi lag. Met die trek van haar lippe, kom daar 'n bitterheid wat Pearl amper kan proe. Maar sy vra eerder nie verder uit nie. Dis in elk geval nie haar besigheid nie. 

"Gaan jy nou huistoe?" vra Heidi vir haar en sy knik haar kop. Sy sit haar arm om haar ander een en kyk peinsend voor haar uit. 'n Volkswagen ry in hul rigting en Heidi beweeg nie. Vir die tweede keer, laat sy Pearl amper 'n hartaanval kry. Pearl trek haar aan die arm, vinnig, uit die pad. Selfs na die skok, reageer Heidi nie. 

Pearl is uitasem. "Ek... Wil nie... In meng nie, maar... Jy... Is jy. .. seker jy's ... Fine?" 

"Kom saam met my." Uit die bloute kom die voorstel. 

"Wat? Hoe nou? Saam met jou waarheen?" 

"Op die trein. Na my suster se troue toe." 

"Nou?" 

Heidi skud haar kop. "Die troue is Sondag. Maar ek sal ook nie omgee om vandag weg te kom nie. So, is jy in?" 

In Pearl se binneste, is daar huiwering. Sy sou alles gee om weer op 'n treinrit te gaan. Soos in die ou dae. Maar soveel het verander. Sy is 'n getroude vrou, sy't 'n kind. Verantwoordelikhede het vermenigvuldig. As sy koers kies, haar familie agterlaat, watter tipe vrou sou dit haar maak? Boonop het Heidi se storie van haar ouers iets binne in haar wese geroer. Dit het sekere vrae laat opduik. Vrae wat ongemaklik was om te beantwoord, vrae wat sy nie seker was sy kon beantwoord nie. Nog tans was daardie vrae belangrike vrae wat net sy en sy alleen kon beantwoord. 

"Dit sou lekker wees," begin sy. "Maar ongelukkig... Moet ek huis toe gaan." 

"Ek dog jy wou 'n bietjie avontuur hê. Wat het skielik verander?" 

Wat het skielik verander? 

"Moet asseblief nie kwaad wees nie. Ek's jammer. Dis net dat wat jy gesê het, van jou pa en ma... Dit het my laat besef dat dit nie die soort lewe is wat ek vir my dogter wil hê nie. Sy moet groot word met albei ouers. Ek kan nie die rede wees hoekom sy ontwrig word nie. Verstaan jy?" 

Heidi sê dat sy verstaan maar sy is duisende kilometer ver al staan sy reg voor haar. 

"Ek sal vir jou 'n treinkaartjie koop, net vir ingeval jy van plan verander." 



Hulle woon in 'n oulike buurt, op 'n oulike straat, met 'n oulike naam. Dis wit heinings net waar jy kyk. Die buurvrou is buite, sy staan by die draad hekkie soos gewoonlik, haar kop straat toe gedraai. Haar oë gaan op en af. Sy sien nie vir Pearl toe sy by haar hek in gaan nie. Dis nie ongewoon nie. Sy was nog altyd effens verwilderd. Pearl neem ongehaaste treë na die voordeur toe. Daar's geen hoendervleis op haar arms nie. Haar nekhare rys nie. Haar hart gallop nie. Dis stil en die reuk van malva blomme groet haar wanneer sy verby die tuin loop, kop gerig deur toe. 

Sy klop en wag. Niemand maak oop nie. Dan klop sy nog 'n keer, en nog 'n keer. Geen antwoord nie. Maar daar's steeds niks hoendervleis op haar vel nie. Sy besluit om deur die vensters te loer, en sien dat die lig brand. In die middel van die dag. Earl sorg altyd dat elke lig in die huis af is wanneer dit dag is. Dalk het hy vir Madeline parkie toe gevat, of sommer iets gaan koop om vanaand te kook. Sy krap in haar sak en haar hart sink. Die treinkaartjie. 

Sy sug en vee die gedagte weg. Dis die laaste ding waaroor sy haar moes bekommer. Die koel metaal van die spaar sleutel raak aan haar middelvinger en sy sit dit in die slot. Dan draai sy. "Hallo? Earl? Madeline?" 

Daar's geen teken van hulle twee nie. Haar voete neem haar na elke kamer toe maar laat haar met niks. Vrae reis deur haar verstand. 

Waar is julle? 

Uiteindelik, sien sy die boodskap teen die yskas, vasgehou deur 'n magneet in die vorm van 'n takkie druiwe. Haar hart is bonsend in haar borskas. 


Pearl 


Dis vir my swaar om jou te begin vertel wat ek op die hart het. Gisteraand kon ek nie ophou rondrol nie. Dis hoekom ek op die bank geslaap het. Ek wou jou nie ontstel nie, wou nie jou van kosbare rus ontneem nie. So toe verwyder ek myself na die sitkamer toe. Sodat dit dalk makliker kon wees om myself totaal uit jou lewe te verwyder. Maar ek weet nie wat my besiel het om vir een sekonde te dink dat enigiets hiervan maklik sou wees nie. 

Tog is dit noodsaaklik. 

Jy sien, daar's baie goed wat jy nie verstaan nie. 

Moenie bekommerd wees oor Madeline nie. Sy's veilig by my. Ek neem haar na my ma toe. Jy mag nie skuldig voel nie. Belowe my jy sal nie jouself blameer nie. 

Pas jouself op, en geniet asseblief die jare wat ek van jou gesteel het. 


Earl. 


Haar kop draai en sy hou vas aan die muur soos een wat uit 'n rolstoel opgestaan het en van voor af moet leer loop. In 'n oogwink is alles dolleeg. Die meubels word deurskynend. Sy het gedink sy sou 'n ongelooflike verligting ondergaan. Maar hierdie oomblik is so anders as wat sy gedink het dit sou wees. In plaas van vry, voel sy vasgevang. In die plek van 'n idilliese paradyswêreld bevind sy haarself in 'n voëltjiehok. 

In die oomblik dat sy vloer toe sak, wil sy vir Heidi bel, instem om saam te gaan troue toe. Maar sy het nie haar nommer gevat nie. Hoe sal sy haar kontak?

Dan onthou sy. Instagram. 

Sy haal haar selfoon uit en tik haar naam in. Heidi Rosenheim. Toe sy haar rekening vind, stuur sy 'n boodskap. 


Heidi, dis Pearl hier. Het nie jou nommer nie so toe kry ek jou hierop. Hoop nie ek pla nie. Ek sal graag saam met jou gaan, dis nou as jy nie al reeds weg is nie. Laat my weet.


_______________


Daar is 'n konstante wemeling van mense – besigheidspassasiers met tasse, gesinne met klein kindertjies en straatkunstenaars wat hul talente ten toon stel. Die lug is gevul met die reuk van koffie en slap tjips vanaf die stalletjies. Die stasie se atmosfeer weerspieël Johannesburg se energie en bedrywige aard. 

Aankomende treinwiele skreeu in die agtergrond terwyl mense beweeg, en reisigers met bagasie in die hand loop haastig langs hulle. Heidi se stap is 'n bietjie stadiger en onseker, en 'n frons verskyn op haar gesig. "Pearl, ek dink ek gaan na my pa toe," sê sy stadig terwyl sy na die aankondigingborde kyk. Pearl draai skielik na haar vriendin. 

"Na jou pa? Het jy 'n plan daarvoor gemaak?" vra sy, 'n mengsel van verrassing en belangstelling op haar gesig.

"Wel, hy weet nie ek kom nie. Maar... Dit sal my altyd pla as ek nie ten minste probeer om hom te sien nie." 

Die treinkaartjie in Heidi se bewende hande vang Pearl se oog. Bloemfontein. 

"Woon jou pa in Bloemfontein?" 

Heidi knik. "Ja. Al vir jare." 

"Is die troue, jou suster se troue ook daar?" 

"Dis reg." 

Pearl kyk af na haar eie kaartjie. Earl se ma woon tans in Kimberley. As sy die trein saam met Heidi neem, kan sy daar afklim. En vir Madeline gaan haal. 

Die trein kom uiteindelik aan en die twee vroue klim op. Haar hart sink wanneer die geluid van 'n akoestiese kitaar haar ore vul. Die passasiers staan die trein vol so dis moeilik vir haar om te sien wie die instrument speel. Maar sy volg Heidi – wie se gesig nog bleek is, en wat nog nie verklap het wat by die dokter gebeur het nie. En Pearl self karring ook nie. Wanneer sy gereed is, sal sy daaroor praat. Of dit vir haarself hou, wat ook heeltemal in die haak is – en beweeg tussen jonk en oud om die oop spasie te bereik. Sy sukkel steeds

 om die kitaarspeler te sien, maar sy kan die klank hoor en die snare streel haar. Sy dink aan die litteken op haar buik en die snye aan Aston se polse en wonder of hulle in sy laaste oomblikke, hom ook aan treinspore herinner het. 


By Rowena Fortuin








Comments

Popular posts from this blog

I Can't Breathe - A Cry for Change

                                  Photo Source: Wikipedia On the 25th of March, an African American man named George Floyd was brutally and inhumanely murdered by a police officer. The police officer, Derek Chauvin, knelt on George's neck for several minutes. Despite George repeatedly telling him that he couldn't breathe, Derek Chauvin didn't lift his knee. George Floyd begged and pleaded for his life, but the former officers showed no remorse. They treated him with such cruelty. He was a human being and they tried to strip him of his dignity in broad daylight. The video is heartbreaking to see. No one deserves to be treated like that. He was a father, a brother, a friend and an uncle. In his final moments, George yelled out for his mother. The ultimate plea for your life. A cry to be heard. To be seen.  Police brutality and racism has a long history, not just in America, but all over the world. If someone has a darker complexion, they're looked down upon an

Poem by @writing_15_

      Photo source: writing_15_ I'd like to present a poem written by a friend of mine. She's fifteen years old and a very talented writer. You guys can check out her  Instagram . Writing_15_ also has a new  blog  where she posts her poetry, book reviews and short stories.  I watched you fade away,  slowly. Then all at once. Like I watched the petals of a flower, fall to the ground. Parts of you fell away faster than others.  Your sense of humour stayed, but your kindness fell of the stem.  You aren’t the same person you once were. Your petals continue to fall. You are slowly changing into nothing but a stem.  The water you need is no longer available, like the attention you no longer receive.  Your petals have fallen to the ground, leaving nothing but a stalk. You have changed, leaving nothing but a stranger.                                                                                             ©writing_15_

Flight of a Starling - Review

Lo and Rita are sisters who are trapeze artists. They travel with their circus family from town to town, never staying in one place for long. Although Lo is happy in the circus, she also wonders what life on the outside is like. She meets a boy named Dean and falls in love with him. Because he's a non-traveller, they arrange clandestine meetings. Lo finds out a shocking secret that turns her world upside down. She feels like she's losing her balance. Through all the unsteadiness in her community, Lo finds solid ground and a feeling of home with Dean. As the secrets bottle up inside of her, Lo makes a decision that has heartbreaking consequences.  Having read Paper Butterflies, I knew what to expect. I was mentally prepared for my heart to be shattered. Lisa Heathfield has a way of pulling you into the world she's created. You become so emotionally invested in the characters and their lives, that you just want to make everything better for them. It's clear fr